Roelf Meyer
Roelf Meyer | |
Minister van Konstitusionele Ontwikkeling en Provinsiale Sake
| |
Ampstermyn 1994 – 1996 | |
President | Nelson Mandela |
---|---|
Opgevolg deur | Mohammed Valli Moosa |
Minister van Konstitusionele Ontwikkeling en Kommunikasie
| |
Ampstermyn 1992 – 1994 | |
President | F.W. de Klerk |
Opgevolg deur | self, nuwe posbeskrywing |
Minister van Verdediging
| |
Ampstermyn 1991 – 1992 | |
President | F.W. de Klerk |
Voorafgegaan deur | Magnus Malan |
Opgevolg deur | Gene Louw |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 16 Julie 1947 Port Elizabeth |
Politieke party | Nasionale Party→ African National Congress |
Alma mater | Universiteit van die Vrystaat |
Roelof Petrus (Roelf) Meyer (gebore 16 Julie 1947, Port Elizabeth) is 'n Suid-Afrikaanse politikus.
Hy matrikuleer in 1964 in Ficksburg en voltooi sy BComm (1968) en LLB (1971) aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna praktiseer hy as prokureur in Pretoria en Johannesburg. In 1979 begin sy politieke loopbaan as Lid van die Volksraad. Hy dien as adjunkminister van Wet en Orde en Konstitusionele Ontwikkeling (1968 – 1991) en later as Minister van Verdediging (1991 – 1992), Konstitusionele Ontwikkeling en Kommunikasie (1992 – 1994) en Konstitusionele Ontwikkeling en Provinsiale Sake (1994 – 1996).
As die hoofonderhandelaar van die Nasionale Partyregering was hy nou betrokke by die onderhandelinge vir 'n demokratiese Suid-Afrika (Veelparty Onderhandelingsforum) in 1993 na die mislukking van KODESA. In hierdie hoedanigheid het hy tesame met Cyril Ramaphosa, wat die hoofonderhandelaar van die African National Congress was, die einde van apartheid verwesenlik deur vreedsame onderhandelinge. Hy het ook nou geskakel met dr. Niël Barnard, die Nasionale Intelligensiediens se destydse hoof, wat 'n sterk ondersteuner van 'n onderhandelde skikking vir Suid-Afrika was. Met die afsluiting van die onderhandelinge in November 1993, word hy die regering se hoofverteenwoordiger op die Uitvoerende Oorgangsraad.
Hierdie onderhandelinge het gelei tot die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in April 1994. Na die verkiesing bly hy in die portefeulje van Konstitusionele Ontwikkeling en Provinsiale Sake in die Kabinet van Nelson Mandela.
Sy ouer broer, Anton "Tobie" Meyer, was Adjunkminister van Landbou en Landsake in hierdie regering. Weereens het hy met Cyril Ramaphosa, die voorsitter van die Konstitusionele Vergadering, saamgewerk.
Hy is tans 'n besigheidsman en dien as konsultant vir vredesprosesse. In hierdie hoedanigheid is of was hy betrokke by baie lande oor die wêreld heen – Noord-Ierland, Sri Lanka, Rwanda, Kosovo en Bolivië sowel as die Baskiese gebied en die Midde-Ooste. Hy dien op die Strategiese Komitee van die projek oor Tye van Transisie in New York. Hy was ook die voorsitter van die Tip O’Neil Vredesstudies by die Universiteit van Ulster in Noord-Ierland in 2001.