[go: up one dir, main page]
More Web Proxy on the site http://driver.im/Gaan na inhoud

KV20

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
KV20
Grafkelder van Toetmoses I en Hatsjepsoet
Die grafkamer J2 van KV20, soos gesien deur Howard Carter (omstreeks 1904)
Die grafkamer J2 van KV20, soos gesien deur Howard Carter (omstreeks 1904)
Ligging Vallei van die Konings
Land Vlag van Egipte Egipte
Ontdek Voor 1799
Uitgrawings deur James Burton (1824)
Howard Carter (1903-'04)
← Vorige
KV219
Volgende →
KV21

KV20 is 'n grafkelder in die Vallei van die Konings by Thebe, naby die moderne stad Luxor in Egipte. Dit was moontlik die eerste grafkelder wat in die vallei gebou is. Dit was die oorspronklike begraafplek van Toetmoses I (wat later in KV38 herbegrawe is) en is later aangepas om hom en sy dogter Hatsjepsoet te huisves.

Die grafkelder was bekend aan Napoleon se Franse veldtog in Egipte en Sirië in 1799[1] en is tussen 1799 en 1903 deur verskeie ontdekkers besoek. In 1903-'04 het Howard Carter uitgrawings gedoen. KV20 is onderskeidbaar van ander grafkelders in die vallei vanweë sy algemene uitleg en die ongewone kromming kloksgewys van die gange.

Ligging en verkenning

[wysig | wysig bron]

KV20 is geleë in die oostelikste tak van die vallei naby die latere grafkelders KV19, KV43 en KV60. Dit was bekend aan Napoleon se ekspedisie en aan Giovanni Belzoni, wat in 1817 in die gebied gewerk het.[2][3] James Burton het die eerste poging aangewend om uitgrawings te doen en het dit tot by die eerste kamer skoongemaak.[4] Geen verdere uitgrawings is gedoen nie, totdat Howard Carter in 1903 sy uitgrawings in die klipharde puin gedoen het.[5] Die werk is gedoen deur Carter as inspekteur van oudhede, maar is geborg deur die Amerikaanse miljoenêr-sakeman Theodore M. Davis, wat in 1906 'n volle verslag van die uitgrawings gepubliseer het.[6]

Die plan van KV20.

Uitleg

[wysig | wysig bron]

Die grafkelder het 'n besonderse uitleg. Dit bestaan uit 'n reeks van vyf, krom, aflopende gange, met steil trappe tussenin. 'n Mens beweeg deur twee kamers en 'n voorkamer voordat jy 'n grafkamer met pilare teëkom. Dit het ook drie klein stoorkamers.[7] Die gange buig kloksgewys oos-suid-wes, wat uniek in die vallei is.[3] Nog 'n ongewone eienskap is die uitermate lengte van 210 m.[3]

Uitgrawings en inhoud

[wysig | wysig bron]
Een van die twee sarkofae wat in KV20 ontdek is. Dit was oorspronklik vir Hatsjepsoet bedoel, maar het nuwe inskripsies vir haar vader, Toetmoses I, bevat.
Brode uit Hatsjepsoet se grafkelder

Carter het twee voorwerpe met Hatsjepsoet se cartouche gevind tydens sy uitgrawings van Toetmoses IV se grafkelder (KV43) en het vermoed haar graf moet daar naby wees. 'n Enkele fondamentruimte is op 2 Februarie 1903 ontdek reg voor KV20.[6] Dit het klein albastervase en modelvoorwerpe bevat. Ook oorblyfsels van linne, brood en vase is gekry. Van die elemente is in die eerste gang ingespoel en is daar ontdek.[8]

Carter se uitgrawings het vroeg in 1903 begin en is eers die volgende jaar voltooi. Die grafkelder was gevul met harde, sementagtige puin. Ná 'n breuk weens die hitte en gebrek aan suurstof oor die baie werkers wat nodig was, het die werk in Oktober weer begin. Die puin in een kamer was so hard dat Carter "nie geweet het of die werkers die puin of die rotse kap nie".[6] Die plafon het ook inmekaargesak. Die laaste trap is op 11 Februarie 1904 bereik; hier het Carter begin afkom op oorblyfsels van begrafnisvoorwerpe, hoofsaaklik steenvase met die cartouches van Ahmose-Nefertari, Toetmoses I en Hatsjepsoet.

Die laaste kamer, die grafkamer, was ook vol puin en die plafon het inmekaargeval. Dit het drie kolomme bevat.[6] Hier was twee sarkofae en die kis met begranisflesse van Hatsjepsoet. Haar sarkofaag was aan die een punt van die kamer en Toetmoses I s'n in die middel van die kamer. Carter het opgemerk nie een van die voorwerpe was in hulle oorspronklike plek nie.

Ook in die grafkamer was 15 blokke sandsteen met hoofstukke uit die Amdoeat[6] en geïllustreer met stokfigure soos in die grafkelder van Toetmoses III (KV34).[7] Die sagte rots van die grafkamer was nie geskik vir versiering nie en die sandsteen sou teen die mure geplaas gewees het.[4]

Kleiner vondste sluit in fragmente van vase, bakke en flesse van steen en erdewerk, gebrande stukke van kiste en bokse, die voet en gesig van 'n groot houtbeeld en kiste vir begrafnisbeeldjies (oesjabti).[6][7]

Eienaarskap

[wysig | wysig bron]

Ondanks die fondamentdeposito van Hatsjepsoet en die bestaan van 'n ander grafkelder vir Toetmoses I (KV38), word nou aanvaar die grafkelder was aanvanklik vir Toetmoses bedoel.[3] Dit is bekend dat die verhoudings van KV20 se grafkamer verskil van dié van die res van die grafkelder en dat dit 'n ontwerpooreenkoms toon met die argitektuur van die Dodetempel van Hatsjepsoet.[9]

Daar is dus voorgestel dat die uitleg van KV20 oorspronklik net gestrek het tot die huidige voorlaaste kamer, waarin Toetmoses I eers begrawe is, en dat die grafkelder tydens die bewind van Hatsjepsoet aangepas is om haar en haar vader se mummies te huisves. Later is Toetmoses I se mummie weer deur sy kleinseun Toetmoses III geskuif na KV38, terwyl Hatsjepsoet se mummie waarskynlik in KV20 gebly het.[9][4]

'n Ongeïdentifiseerde mummie wat in DB320 ontdek is binne die kiste wat Toetmoses III vir Toetmoses I voorberei het, word gewoonlik geïdentifisser as dié van laasgenoemde koning.[10] Hatsjepsoet se mummie is nog nie met sekerheid geëien nie en 'n gemummifiseerde lewer in DB320 is dalk al wat van haar oor is,[11] hoewel ook al voorgestel is een van twee vroulike mummies in KV60 is hare.[3][12]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Commission des sciences et arts d'Egypte (1812). Description de l'Égypte... Antiquités, Planches, Tome Deuxième (in Frans). Paris: Imprimerie impériale. p. Plate 77.
  2. Belzoni, Giovanni (1820). Narrative of the Operations... in Egypt and Nubia: Plates Illustrative of the Researches and Operations of G. Belzoni in Egypt and Nubia. Londen: John Murray. p. Plate XXXIX. Besoek op 23 April 2021.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 3,4 "KV 20 (Thutmes I and Hatshepsut) – Theban Mapping Project". www.thebanmappingproject.com. Besoek op 23 April 2021.
  4. 4,0 4,1 4,2 Reeves, C. N. (1990). Valley of the Kings: Decline of a royal necropolis. London: Kegan Paul International. pp. 13–17. ISBN 0-7103-0368-8.
  5. Carter, Howard (1903). "Report of Work Done in Upper Egypt (1902–1903)". Annales du Service des Antiquités de l'Égypte. IV: 177. Besoek op 14 Oktober 2020.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 6,4 6,5 Davis, Theodore M.; Naville, Edouard; Carter, Howard (1906). The Tomb of Hâtshopsîtû (Duckworth-herdruk, 2004 uitg.). London: Archibald Constable & Co. Ltd. pp. 77–80. ISBN 0-7156-3125-X.
  7. 7,0 7,1 7,2 Reeves, Nicholas; Wilkinson, Richard H. (2010). The Complete Valley of the Kings : Tombs and Treasures of Egypt's Greatest Pharaohs (Paperback reprint uitg.). Londen: Thames and Hudson. pp. 91–94. ISBN 978-0-500-28403-2.
  8. Davis, Theodore M.; Naville, Edouard; Carter, Howard (1906). The Tomb of Hâtshopsîtû (Duckworth-herdruk, 2004 uitg.). London: Archibald Constable & Co. Ltd. pp. 105–106. ISBN 0-7156-3125-X.
  9. 9,0 9,1 Romer, John (1974). "Tuthmosis I and the Bibân El-Molûk: Some Problems of Attribution". The Journal of Egyptian Archaeology. 60: 119–133. doi:10.2307/3856179. JSTOR 3856179.
  10. Reeves, C.N., Valley of the Kings (Kegan Paul, 1990) p. 244
  11. Reeves, C.N., Valley of the Kings (Kegan Paul, 1990) p. 245
  12. "The Search for Hatshepsut and the Discovery of Her Mummy – Dr. Zahi Hawass – The Plateau – Official Website of Dr. Zahi Hawass". www.guardians.net.

Skakels

[wysig | wysig bron]