[go: up one dir, main page]
More Web Proxy on the site http://driver.im/

Kappadosië (Turks: Kapadokya, van die Griekse Καππαδοκία, Kappadokía) is ’n streek in Sentraal-Turkye, grootliks in die Nevşehir-provinsie.

Nasionale Park van Göreme en die rotse van Kappadosië*
Unesco-wêrelderfenisterrein

Berg Aktepe naby Göreme en die rotse van Kappadosië.
Ligging van Kappadosië op 'n kaart (Turkye)
Kappadosië
Kappadosië
Ligging van Kappadosië in Turkye
Koördinate: 38°39′30″N 34°51′13″O / 38.65833°N 34.85361°O / 38.65833; 34.85361
Lande Vlag van Turkye Turkye
Tipe Verskeie
Kriteria i, iii, v, vii
Verwysings 357
Streek Asië
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie 1985  (9de Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.

Die naam is regdeur die geskiedenis in Christelike bronne gebruik en is steeds die naam van ’n streek met buitengewone natuurlike wonders, veral die unieke "feëskoorstene", en ’n unieke historiese en kulturele erfenis. Dit is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

In die tyd van Herodotus is berig dat die Kappadosiërs die hele streek van Berg Taurus tot naby die Swartsee bewoon het. In hierdie sin is Kappadosië se grens in die suide gevorm deur die Taurus-gebergte wat dit van Silisië skei, in die ooste deur die Bo-Eufraat-rivier en die Armeense Hoogland, in die noorde deur Pontus en in die weste deur Likaonië en Oos-Galasië.[1]

Etimologie

wysig
 
Die ligging van Kappadosië in Anatolië.

Die vroegste aantekening van die naam Kappadosië dateer uit die laat 6de eeu v.C. as een van die streke van die Persiese Ryk. In dié geskrifte is die Persiese naam Katpatuka, duidelik nie van Persiese oorsprong nie.[2]

Volgens Herodotus het die Perse aan die Kappadosiërs hulle naam gegee, terwyl die antieke Grieke hulle "Siriërs" of "Wit-Siriërs" (Leucosyri) genoem het.

Kappadosië word ook in die Bybelboek Handelinge genoem (Hand.2:9) as een van die groepe wat die evangelie op die dag van die pinksterfees kort voor die opstanding van Jesus in hul eie taal van die Galileërs gehoor het. Uit Hand 2:5 kan afgelei word dat die Kappadosiërs "godsdienstige Jode" was.

Onder latere konings van die Persiese Ryk is die Kappadosiërs in twee verdeel. Die een streek waar hulle gewoon het, die binnelandse gebied, is steeds Kappadosië (soms Groot Kappadosië) genoem en die ander Pontus. Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor eersgenoemde.

Geografie en klimaat

wysig
 
Berg Erciyes.

Kappadosië lê in die oostelike deel van Anatolië, in die middel van wat vandag Turkye is. Dit bestaan hoofsaaklik uit ’n hoë plato (meer as 1 000 m hoog) met vulkaniese pieke, waarvan Berg Erciyes naby Kayseri op 3 916 m die hoogste is.

Die grense van die streek is baie vaag, veral in die weste.

In die suide vorm die Taurus-gebergte die grens met Silisië en skei dit Kappadosië van die Middellandse See. In die weste vorm die historiese streke Likaonië en Oos-Galasië die grense, in die ooste die Bo-Eufraat-rivier en die Armeense Hoogland, en in die noorde Pontus.[3]

Vanweë sy hoogte en binnelandse ligging het Kappadosië ’n kontinentale klimaat met warm, droë somers en koue winters met sneeu.[4] Reënval is laag en die streek is hoofsaaklik halfdroog tot droog.

Geskiedenis

wysig
 
Die dorp Uçhisar.
 
"Feëskoorstene" in Ürgüp.
 
’n Huis in Kappadosië.
 
’n Tempel uit die rotse gekap.

Kappadosië was in die laat-Bronstydperk bekend as Hatti, en was die tuisland van die Hetiete. Ná die val van die Hetitiese Ryk is die streek regeer deur ’n soort feodale aristokrasie wat die boere soos slawe behandel het.

Nadat Alexander die Grote ’n einde gebring het aan die Persiese Ryk, het hy die gebied deur een van sy militêre aanvoerders probeer regeer. Ariarathes, ’n Persiese aristokraat, het egter op die een of ander manier koning van die Kappadosiërs geword. Ariarathes I (332—322 v.C.) was ’n suksesvolle heerser en het die grense van die Koninkryk van Kappadosië tot by die Swartsee uitgebrei. Die koninkryk het in vrede geleef tot met die dood van Alexander. Die voormalige ryk is toe in baie dele verdeel en Kappadosië het in die mag van Eumenes beland. Ná sy dood het Ariarathes se seun sy erfenis teruggekry en dit nagelaat aan ’n lyn opvolgers waarvan die meeste dieselfde naam as die dinastie se stigter gehad het.

Onder Ariarathes IV was die koninkryk eers ’n vyand en toe ’n bondgenoot van die Romeinse Republiek. Die intriges en oorloë wat op sy dood gevolg het, het tot die einde van die dinastie gelei.

Die streek het ’n mate van onafhanklikheid behou tot in 17 n.C., toe dit eindelik ’n Romeinse provinsie geword het. ’n Groot deel daarvan was ’n streek van die Bisantynse Ryk. Kappadosië het verskeie ondergrondse stede, soos dié van Kaymakli, waar vroeë Christene geskuil het voordat die Christendom ’n aanvaarde godsdiens geword het. Vir die res van die Bisantynse tydperk is hulle taamlik min geraak deur die konflikte in die gebied, maar dit was later ’n belangrike grenssone teen Moslem-aanvalle.

Ná 1071 het verskeie groepe Seldjoekse Turke hulle in Anatolië gevestig. Kappadosië het geleidelik deel van die Turkse state geword wat in die ooste en weste tot stand gekom het en van die inwoners het hulle tot Islam bekeer. Deur die loop van die 15de eeu het Kappadosië deel van die Ottomaanse Ryk geword nadat die Ottomaanse Turke die gebied oorgeneem het. Dit is vandag steeds deel van die Republiek van Turkye.

In die vroeë 18de eeu is ’n nuwe stad, Nevşehir, gestig om as streekshoofstad te dien, ’n rol wat dit steeds vervul.

Kappadosiese Grieks

wysig

Baie voormalige Kappadosiërs het ’n Turkse dialek begin praat (wat in die Griekse alfabet geskryf word) en in dele waar Grieks steeds gepraat is, is die taal in ’n groot mate deur Turks beïnvloed. Hierdie dialek van Grieks is bekend as "Kappadosiese Grieks". Dit word nog net deur ’n handvol afstammelinge van voormalige Kappadosiërs in moderne Griekeland gepraat.

Moderne toerisme

wysig

Kappadosië is een van die wêreld se grootste natuurwonders. Dit is ’n gewilde toeristebestemming danksy sy unieke historiese, geologiese en kulturele erfenis. Dit is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Die plato bestaan uit ’n turfsteenlandskap wat ná ’n enorme uitbarsting van drie vulkane miljoene jare gelede ontstaan het, en kalksteen. Die uitbarstings het duisende jare aangehou en die vulkaniese neerslag het ’n dik laag bo-oor die gebied gevorm. Deur geleidelike erosie van die verskillende tipes gesteentes, wat elk teen ’n ander spoed verweer het, is ’n unieke landskap by Göreme geskep. Veral die unieke "feëskoorstene" is ’n besonderse gesig.

Van die vroegste tye af is huise, kerke en kloosters in die turfsteen uitgekap. Dié is steeds oral in die rotswande te sien. In 300—1200 het Göreme ’n kloostersentrum geword. Dit is vandag die Göreme-opelugmuseum, een van die beroemdste terreine in Sentraal-Turkye.

Galery

wysig

Verwysings

wysig
  1. Van Dam, R. Kingdom of Snow: Roman rule and Greek culture in Cappadocia. Philadelphia: University of Pennsylvania Press, 2002, bl.13. [1]
  2. Room, Adrian. (1997). Placenames of the World. Londen: MacFarland and Company.
  3. Van Dam, R. Kingdon of Snow: Roman rule and Greek culture in Cappadocia. Philadelphia: University of Pennsylvania Press, 2002, bl.13. [2]
  4. Van Dam, R. Kingdom of Snow: Roman rule and Greek culture in Cappadocia. Philadelphia: University of Pennsylvania Press, 2002, bl.14. [3]

Eksterne skakels

wysig