[go: up one dir, main page]
More Web Proxy on the site http://driver.im/Gaan na inhoud

Moonraker (rolprent)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Moonraker
Regisseur Lewis Gilbert
Produksieleier Albert R. Broccoli
Draaiboek Draaiboek:
Christopher Wood
Roman: Ian Fleming
Met Roger Moore
Michael Lonsdale
Lois Chiles
Corinne Cléry
Richard Kiel
Musiek deur John Barry
Kinematografie Jean Tournier
Redigeerder John Glen
Ateljee Eon Productions
Les Productions Artistes Associés
Verspreider United Artists
Uitgereik 26 Junie 1979 (VK)
Speeltyd 126 min
Land Verenigde Koninkryk
VSA
Frankryk
Taal Engels
Begroting VS$ 34 miljoen
Bruto wins VS$ 210,3 miljoen
IMDb-profiel

Moonraker is 'n Britse spioenasierolprent - die elfde in die James Bond-reeks - wat in 1979 deur Eon Productions vervaardig is. Roger Moore het vir die vierde keer die hoofrol van die fiktiewe MI6-meesteragent James Bond vertolk. Lois Chiles, Michael Lonsdale, Corinne Cléry en Richard Kiel het ondersteunende rolle vertolk. Moonraker was die derde en laaste rolprent in die reeks waarvoor Lewis Gilbert (1920–2018) die regie behartig het. Gilbert word onthou vir die ironiese ondertoon asook die elegante en fantasievolle estetiek van sy Bond-rolprente.[1]

Moonraker het in 1979 ontstaan, twee jaar voordat die eerste bemande Nasa-pendeltuig die ruimte ingeskiet is

Nog voordat Ian Fleming sy roman Moonraker in 1954 voltooi het, het hy die verfilming daarvan beplan. So baseer die rolprent op 'n draaiboek-manuskrip wat Fleming reeds vroeër geskryf het. Die vervaardigers was oorspronklik van plan om met die verfilming van For Your Eyes Only te begin, maar het in plaas daarvan Moonraker gekies - met die oog op die groeiende gewildheid van die wetenskapsfiksiegenre in 'n tyd toe George Lucas se Star Wars groot internasionale sukses behaal het en NASA se ruimtependeltuie 'n nuwe fase in die ruimtevaarttegnologie ingelui het.

Weens die beperkte begroting is die rolprent as eerste koproduksie tussen die Britse en Franse United Artists-rolprentateljees merendeels in Frankryk geskiet, terwyl sommige tonele van Moonraker in Italië, Brasilië, Guatemala en die Verenigde State ontstaan het. Die Engelse Pinewood Studios se klankateljees, waar rolprente in die James Bond-reeks tradisioneel geskiet is, is slegs deur die spesiale effekte-span benut.

Die begroting vir Moonraker was met VS$34 miljoen meer as dubbel so hoog as dié vir die voorganger-fliek The Spy Who Loved Me. Vir baie kritici was Moonraker se opsetlik oordrewe ruimtetonele 'n bietjie vergesog. Terwyl die rolprent in sy geheel gemengde kritieke ontvang het, was daar net lof vir Moonraker se visuele effekte en is Derek Meddings vir 'n Academy Award of Oscar vir die Beste Visuele Effekte genomineer. Gehore het die rolprent gunstig ontvang, en so het Moonraker as die suksesvolste fliek van 1979[2] VS$ 210,3 miljoen by die loket verdien - 'n rekord wat eers in 1995 deur GoldenEye gebreek is.

Storielyn (sonder pretbederwer)

[wysig | wysig bron]

'n Boeing-makrostraler, wat 'n ruimtependeltuig vervoer, stort in die Verenigde Koninkryk neer. Nadat geen wrakdele van die pendeltuig op die ongelukstoneel gevind word nie ('n raaiselagtige omstandigheid wat nie in die nuus vermeld word nie), is daar 'n vermoede dat die pendeltuig gekaap is. Bond begin die saak in opdrag van die Britse geheime diens MI6 navors.

'n Spoor lei na die Kaliforniese magnaat Hugo Drax, eienaar van Drax Industries - die onderneming wat die ruimtependeltuig vervaardig het. Drax, 'n gesofistikeerde en skatryke man wat 'n Franse kasteel in 'n Kaliforniese woestynlandskap bewoon, waar hy jong dames en mans as ruimtevaarders oplei, en blykbaar ook die Paryse Eiffel-toring gekoop het, maar deur die Franse regering 'n uitvoerpermit daarvoor geweier is, ontken enige aandeel aan die vliegtuigongeluk en die pendeltuig-diefstal.

Spore lei Bond vanuit Kalifornië na Venesië, Rio de Janeiro en die Amasone-reënwoud. Saam met die Amerikaanse ruimtewetenskaplike Dr. Holly Goodhead, wat self 'n Amerikaanse geheime agent blyk te wees, ontrafel Bond 'n geheime plan wat ongekende gevolge vir die mensheid sou inhou.

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]