[go: up one dir, main page]
More Web Proxy on the site http://driver.im/Gaan na inhoud

Kreutz-sonskeerder

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Charles Piazzi Smyth: The Great Comet of 1843.

Die Kreutz-sonskeerders is ’n familie komete wat baie na aan die Son verbybeweeg tydens hul perihelium. Hulle is vermoedelik fragmente van een groot komeet wat verskeie eeue gelede opgebreek het en is genoem na die Duitse sterrekundige Heinrich Kreutz, wat eerste aangedui het dat hulle verwant is.[1]

'n Kreutz-sonskeerder se afelium (verste punt van die Son af) is sowat 170 AE. Hulle kom uit 'n verafgeleë deel van die Sonnestelsel in die sterrebeeld Groot Hond na die binneste Sonnestelsel, maak 'n nabydraai om die Son en keer dan terug na hulle afelium.

Verskeie lede van die Kreutz-groep het Groot Komete geword; sommige was in daglig naby die Son sigbaar. Die mees onlangse een was Komeet Ikeya-Seki in 1965, wat moontlik een van die helderste komete in die laaste 1 000 jaar was.[1] Daar is al berig dat nog ’n groep helder Kreutz-sonskeerders binne die volgende paar jaar tot paar dekades in die binneste Sonnestelsel sal verskyn.[2]

Meer as 4 000 kleiner lede van die familie van net ’n paar meter breed is al ontdek sedert die lansering van die SOHO-satelliet in 1995.[3] Nie een van hierdie kleiner komete het hulle perihelium oorleef nie. Groter sonskeerders, soos die Groot Komeet van 1843 en C/2011 W3 (Lovejoy), het dit wel oorleef.

Ontdekking en historiese waarnemings

[wysig | wysig bron]
'n Illustrasie van die Groot Komeet van 1843, soos gesien uit Tasmanië.

Die eerste aangetekende komeet waarvan die wentelbaan uiters naby die Son verbybeweeg het, was die Groot Komeet van 1680 (C/1680 V1). Daar is bereken hy het net 200 000 km (0,0013 AE) van die Son se oppervlak verbybeweeg, wat omtrent 'n sewende van die Son se deursnee is, of die helfte van die afstand tussen die Aarde en die Maan.[4] Dit was die eerste bekende sonskeerderkomeet.

Sterrekundiges, onder andere Edmond Halley, het gespekuleer dié komeet was dieselfde een wat in 1106 naby die Son verbybeweeg het.[4] Altesaam 163 jaar later het die Groot Komeet van 1843 verskyn en ook baie na aan die Son verbybeweeg. Ondanks berekenings van sy wentelperiode as verskeie eeue, het sommige sterrekundiges gewonder of dit nie die komeet van 1680 was wat teruggekeer het nie.[4] 'n Helder komeet wat in 1880 gesien is, het met 'n feitlik identiese wentelbaan langs beweeg as die een in 1843, en so ook die daaropvolgende Groot Komeet van 1882. Sommige sterrekundiges het voorgestel hulle is almal dieselfde komeet, waarvan die wentelperiode op die een of ander manier met elke perihelium korter raak – dalk deurdat dit deur 'n digte material om die Son beïnvloed word.[4]

'n Alternatiewe voorstel was dat hulle almal fragmente van 'n vroeëre sonskeerderkomeet is.[1] Die idee is die eerste keer in 1880 voorgestel, en het geloofbaarder geword toe die Groot Komeet van 1882 in verskeie fragmente opbreek nadat hy sy perihelium bereik het.[5] In 1888 het Heinrich Kreutz 'n geskrif gepubliseer waarin hy voorstel die komete van 1843 (C/1843 D1, die Groot Maartkomeet), 1880 (C/1880 C1, die Groot Suidelike Komeet) en 1882 (C/1882 R1, die Groot Septemberkomeet) almal fragmente was van 'n reusekomeet wat verskeie besoeke aan die Son tevore opgebreek het.[1] Daar is bewys die komeet van 1680 was nie aan dié fragmente verwant nie.

Nog 'n Kreutz-sonskeerder is in 1887 gesien (C/1887 B1, die Groot suidelike Komeet van 1887); die volgende een het eers 1945 sy verskyning gemaak.[6] Nog twee sonskeerders het hulle opwagting in die 1960's gemaak: Komeet Pereyra in 1963 en Komeet Ikeya-Seki in 1965, wat ná sy perihelium in drie stukke opgebreek het.[2] Die verskyning van twee Kreutz-sonskeerders so kort ná mekaar het gelei tot verdere studies oor die dinamika van die groep.[6]

Die groep het gewoonlik 'n baanhelling van rofweg 140 grade en 'n periheliumafstand van sowat 0,01 AE.

Noemenswaardige lede

[wysig | wysig bron]

Die helderste lede van die Kreutz-sonskeerders was asemrowend en was maklik bedags te sien. Die drie indruwekkendstes was die Groot Komeet van 1843, die Groot Komeet van 1882 en X/1106 C1. Die bron van die Kreutz-sonskeerders wat tot dusver gesien is, kan die Groot Komeet van 371 v.C. wees,[7] of komete wat in 214 v.C., 423 n.C. of 467 n.C. gesien is.[8] Nog 'n merkwaardige Kreutz-sonskeerder was die Eklipskomeet van 1882.[1]

Groot Komeet van 371 v.C.

[wysig | wysig bron]

Dié Groot Komeet is gesien in die noordelike winter van 372-371 v.C. en was volgens baie die bron van die hele familie Kreutz-sonskeerdes. Dit is gesien deur Aristoteles en Eforos in die tydsperk toe dit met die blote oog gesien kon word. Volgens berigte was dit uiters lank en uiters helder, met 'n prominente stert met 'n rooierige kleur sowel as 'n kern wat helderder as enige ster in die naglug was.

Eforos het ook berig die komeet het in twee dele opgebreek: 'n groter fragment, wat vermoedelik in 1106 n.C. teruggekeer het, en 'n kleiner fragment. Dié komeet het vermoedelik in al hoe meer stukke opgebreek onder invloed van die Son en was die bron van alle Kreutz-sonskeerders wat tot dusver gesien is. Die reusekomeet moes 'n kern gehad het van meer as 120 km breed.[7]

Groot Komeet van 1106 n.C.

[wysig | wysig bron]

Die komeet X/1106 C1 was 'n reusekomeet wat oor die hele wêreld gesien is. Op 2 Februarie 1106 n.C. is berig 'n ster het langs die Son verskyn, sowat 'n graad van hom af. Daarna het dit blykbaar dowwer geword, met 'n dowwe kern ná perihelium. Sy stert het egter baie groter geword en op 7 Februarie het Japannese waarnemers gesê die uiters helder, wit stert het sowat 100 grade ver oor die naglug gestrek. Die stert het na berig word ook in verskeie dele vertak. Op 9 Februarie het dit effens dowwer geword, maar die stert was steeds besonder helder, 60 grade lank en 3 grade breed.

In Europese tekste het die tyd dat die komeet met die blote oog gesien kon word, gewissel van 15 tot 70 dae. Onlangse berekenings dui daarop dié komeet was die bron van 'n hele subgroep Kreutz-sonskeerders, insluitende die besonder helder skonskeerderkomete van 1882, 1843 en 1965. Warnemings dui daarop dat die grootste fragment van die Groot Komeet van 371 v.C., wat in twee dele gebreek het, later teruggekeer het as die Groot Komeet van 1106 n.C.[9]

Groot Komeet van 1843

[wysig | wysig bron]

Die Groot Komeet van 1843 is vroeg in Februarie dié jaar die eerste keer gesien, net meer as drie weke voor sy perihelium. Teen 27 Februarie was dit maklik in die daglig sigbaar.[10] Waarnemers het gesê hulle sien 'n stert van 2 tot 3 grade lank wat weg van die Son af strek voordat dit in die helder lug verdwyn. Ná sy perihelium het dit in die oggendlug herverskyn[10] en 'n uiters lang stert ontwikkel. Dit het op 11 Maart 45 grade lank deur die lug gestrek en dit was meer as 2 grade breed.[11] Die stert was volgens berekenings langer as 300 miljoen kilometer (2 AE). Dit was die langste komeetstert wat gemeet is tot in 2000, toe Komeet Hyakutake se stert op 550 miljoen kilometer bereken is. Die maksimum skynbare magitude van dié komeet was -10. (Die afstand tussen die Aarde en die Son – 1 AE – is net 150 miljoen kilometer.)[12][13]

Die komeet was die hele Maart lank besonder prominent voordat dit in April dowwer geword het en skaars met die blote oog sigbaar was.[11] Dit is op 20 April die laaste keer gesien. Die komeet het 'n groot indruk op die publiek gemaak en baie mense laat vrees die oordeelsdag is ophande.[10]

Eklipskomeet van 1882

[wysig | wysig bron]
Die Groot Komeet van 1882, soos gesien uit Suid-Afrika.

'n Groep waarnemers wat op 17 Mei 1882 in Egipte byeengekom het om na 'n sonsverduistering te kyk, was baie verbaas toe hulle 'n helder streep naby die Son sien toe dit byna verduister was. Heel toevallig het die sonsverduistering saamgeval met die perihelium van 'n Kreutz-sonskeerder. Die komeet sou andersins ongesiens verbygegaan het – die waarneming daarvan tydens die sonsverduistering was die enigste keer dat dit gesien is.

Op foto's van die verduistering kan gesien word die komeet het aansienlik beweeg in die 1 minuut 50 sekondes van die verduistering – soos verwag kan word van 'n liggaam wat teen byna 500 km/s by die Son verbyskiet.[4]

Groot Komeet van 1882

[wysig | wysig bron]

Die Groot Komeet van 1882 is onafhanklik deur baie waarnemers ontdek, want dit was reeds maklik met die blote oog sigbaar vroeg in September 1882, net 'n paar dae voor perihelium, toe dit 'n skynbare magnitude van sowat -17 bereik het: verreweg die helderste komeet wat nog aangeteken is en helderder as die volmaan met 'n faktor van 57.[14]

Dit het vinnig helderder geword en was eindelik so helder dat dit twee dae lank (16-17 September) met die blote oog in die dag sigbaar was, selfs deur ligte wolke.[15] Ná sy perihelium het die komeet verskeie weke lank helder gebly.

In Oktober is gesien sy kern breek op in eers twee en toe vier stukke. Die tempo waarteen die fragmente uitmekaargespat het, was so vinnig dat hulle omtrent 'n eeu uitmekaar sal terugkeer – tussen 670 en 960 jaar ná die verbrokkeling.[2]

Komeet Ikeya-Seki se stert op 30 Oktober 1965. Foto deur James W. Young (Tafelbergsterrewag/JPL/Nasa).

Komeet Ikeya-Seki

[wysig | wysig bron]

Komeet Ikeya-Seki is die mees onlangse baie helder Kreutz-sonskeerder. Dit is op 18 September 1965 onafhanklik ontdek deur twee Japannese amateursterrekundiges, binne 15 minute van mekaar, en is gou herken as 'n Kreutz-sonskeerder.[4] Dit het oor die volgende vier weke vinnig helderder geword teryl dit die Son genader het, en het teen 15 Oktober 'n skynbare magnitude van 2 bereik.

Die komeet het sy perihelium op 21 Oktober bereik en waarnemers oor die hele wêreld heen kon dit maklik in die daglig sien.[4] 'n Paar uur voor perihelium het dit 'n sigbare magnitude van -10 tot -11 gehad, omtrent so helder soos die eerste kwartier van die Maan en die helderste komeet sedert 1882. 'n Dag ná perihelium het die magnitude tot net -4 afgeneem.[16]

Japannese waarnemers wat 'n koronagraaf gebruik het, het gesien hoe die komeet 30 minute voor perihelium in drie stukke opbreek. Toe die komeet daarna weer verskyn, is twee van dié kerns bespeur en die derde een vermoed. Die komeet het 'n baie lang stert ontwikkel, sowat 25 grade lank, voordat dit in November verdof het. Dit is in Januarie 1966 die laaste keer gesien.[17]

Dinamiese geskiedenis en evolusie

[wysig | wysig bron]
Die benaderde verhoudings tussen die grootste Kreutz-sonskeerders. Die periheliums waarby fragmentasie voorkom, is nie oral goed vasgestel nie.

'n Studie in 1967 deur Brian G. Marsden was die eerste poging om die wentelgeskiedenis van die groep na te speur om die bron vas te stel.[4][6] Alle bekende lede van die groep tot in 1965 het 'n feitlik identiese baanhelling van sowat 144 grade gehad, sowel as baie eenderse waardes vir die lengtegraad van perihelium by 280-282°.[6]

Marsden het bevind die Kreutz-sonskeerders kan in twee groepe verdeel word, met wentelelemente wat effens verskil, wat daarop dui die familie het ontstaan uit fragmentasies by meer as een perihelium.[4]

Deur die wentelbane van Ikeya-Seki en die Groot Komeet van 1882 terug te speur het Marsden gevind die verskille tussen hulle wentelelemente by hulle vorige perihelium, was van dieselfde orde van magnitude as verskille tussen die elemente van die fragmente van Ikeya-Seki nadat hulle verbrokkel het.[18] Dit beteken dit is veilig om aan te neem hulle is twee dele van dieselfde komeet wat een perihelium gelede opgebreek het. Verreweg die beste kandidaat vir die bron was dié wat in 1106 gesien is (die Groot Komeet van 1106): Ikeya-Seki se afgeleide wentelperiode gee 'n vorige perihelium amper pesies op die regte tyd. Hoewel die Groot Komeet van 1882 se afgeleide wentelbaan dui op 'n vorige perihelium van 'n paar dekades later, sou dit net klein aanpassings verg om die berekenings te laat klop.[4]

Die sonskeerderkomete van 1668, 1689, 1702 en 1945 stem blykbaar baie ooreen met dié van 1882 en 1965,[4] hoewel hulle wentelbane nie presies genoeg bekend is om te bepaal of hulle in 1106 van die bronkomeet afgebreek het of by 'n vorige perihelium die een of ander tyd in die 3de tot die 5de eeu n.C. nie.[2] Dié subgroep komete is bekend as subgroep II.[1] Komeet White-Ortiz-Bolelli, wat in 1970 gesien is,[19] is nader verwant aan dié groep as aan subgroep I, maar lyk of dit een perihelium vroeër as die ander fragmente afgebreek het.[1]

Die sonskeerderkomete wat in 1843 (die Groot Komeet van 1843) en in 1963 (Komeet Pereyra) gesien is, lyk of hulle naby verwant is en tot subgroep I behoort, hoewel die verskille tussen hulle wentelelemente steeds taamlik groot is wanneer hulle wentelbane teruggespeur word na een perihelium tevore, en dit dui moontlik daarop dat hulle nóg een omwenteling tevore van mekaar weggebreek het.[18] Hulle is dalk nie verwant aan die komeet van 1106 nie, maar eerder aan 'n komeet wat 50 vroeër teruggekeer het.[1] Subgroep I sluit ook komete in wat in 1695, 1880 (die Groot Suidelike Komeet van 1880) en in 1887 (die Groot Suidelike Komeet van 1887) gesien is, asook die meeste komete wat deur die SOHO-sending opgespoor is (sien hier onder).[1]

Die verskil tussen die twee subgroepe dui waarskynlik aan hulle kom van twee verskillende moederkomete, wat dalk self eens deel van 'n "ouma" was wat verskeie periheliums tevore opgebreek het.[1] Een moontlike kandidaat vir die ouma is die komeet wat in 371 v.C. deur Aristoteles en Eforos waaargeneem is. Moderne sterrekundiges is egter skepties oor Eforos se bewering dat hy die komeet sien opbreek het, want geen ander bron bevestig dit nie.[2] In plaas daarvan word komete wat tussen die 3de en 5de eeu v.C. gesien is (van 214, 426 en 467), beskou as 'n moontlike bron van die Kreutz-familie.[2]

Hoewel die komeet van 1680 se wentelbaan heelwat verskil van die twee hoofgroepe s'n, is dit moontlik dat dit aan die Kreutz-sonskeerders verwant is deur 'n fragmentasie baie wentelbane tevore.[2]

Onlangse waarnemings

[wysig | wysig bron]

Dit sou tot onlangs vir selfs 'n helder Kreutz-sonskeerder moontlik gewees het om ongemerk deur die binneste Sonnestelsel te beweeg as sy perihelium tussen Mei en Augustus plaasgevind het.[1] In dié tyd van die jaar sal die komeet, soos van die Aarde af gesien, direk agter die Son aankom en wegbeweeg, en dan sou dit net baie na aan die Son sigbaar geword het indien dit uiters helder geword het. So het net toeval daartoe gelei dat die Eklipskomeet van 1882 tydens 'n sonsverduistering ontdek is.[1]

In die 1980's het twee sonwaarnemende satelliete verskeie nuwe lede van die Kreutz-familie ontdek, en sedert die lansering van die SOHO-satelliet in 1995 kan komete enige tyd van die jaar naby die Son waargeneem word.[2] Die satelliet verskaf 'n konstante sig op die omgewing van die Son en het al honderde nuwe sonskeerderkomete ontdek, waarvan sommige net 'n paar meter breed is. Sowat 83% van die sonskeerders wat deur SOHO ontdek word, is lede van die Kreutz-groep, terwyl die ander "nie-Kreutz-" of "sporadiese" sonskeerders genoem word (dit is Meyer-, Marsden- en Kracht1&2-families).[20] 'n Nuwe lid van die Kreutz-familie word gemiddeld elke drie dae ontdek.[21]

Buiten Komeet Lovejoy het nie een van die sonskeerders wat SOHO gesien het, sy perihelium oorleef nie; sommige het dalk in die Son self beland, maar die meeste het waarskynlik net heeltemal gedisintegreer.[2]

Meer as 75% van die SOHO-sonskeerders is deur amateursterrekundiges ontdek wat SOHO se waarnemings op die internet ontleed. Sommige amateurs het 'n verbasende hoeveelheid komete ontdek, met Rainer Kracht van Duitsland wat voorloop met 211, gevolg deur Michael Oates van Brittanje met 144 en Zhou Bo van China met 97.[22] Teen Desember 2011 is meer as 2 000 Kreutz-sonskeerders met SOHO-data ontdek.[23]

SOHO-waarnemings het gewys sonskeerders arriveer dikwels in pare wat deur 'n paar uur geskei word. Dit gebeur te dikwels om toevallig te wees en kan nie wees vanweë vebrokkelings tydens die vorige wentelbaan nie, want die fragmente sou deur 'n veel groter afstand geskei gewees het.[2] Daar word eerder vermoed die pare is die resultaat van opbrekings ver van die perihelium af. Baie komete breek ver van hulle perihelium op, en dit lyk of Kreutz-sonskeerders ná 'n aanvanklike fragmentasie by perihelium nog talle opbrekings kan deurmaak deur die res van die wentelbaan.[2][24]

Die getal Kreutz-komete van subgroep I is omtrent vier keer die getal van subgroep II. Dit dui daarop dat die "oumakomeet" in "moederkomete" van onewe groottes opbreek.[2]

Toekoms

[wysig | wysig bron]

Dinamies sal die Kreutz-sonskeerders vir die volgende duisend jare as 'n afsonderlike familie beskou kan word. Eindelik sal hulle wentelbane deur swaartekragsteurings verstrooi word. Na aanleiding van die tempo van opbreking van die bestaande lede, kan die groep egter voor dan heeltemal vernietig word.[24] Die aanhoudende ontdekking van groot getalle van die familie deur SOHO sal ongetwyfeld lei tot 'n groter begrip van hoe komete opbreek om families te vorm.[2]

Dit is onmoontlik om te voorspel hoe groot die kans is dat nog 'n baie helder Kreutz-komeet in die nabye toekoms sy verskyning kan maak, maar as 'n mens in ag neem dat minstens 10 in die afgelope 200 jaar met die blote oog gesien kon word, sal nog 'n groot komeet van die Kreutz-familie byna vir seker die een of ander tyd sy opwagting maak.[19] Komeet White-Ortiz-Bolelli het in 1970 'n skynbare magnitude van 1 bereik. In Desember 2011 het die Kreutz-sonskeerder C/2011 W3 (Lovejoy) sy perihelium oorleef en 'n skynbare magnitude van -3 bereik.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,00 1,01 1,02 1,03 1,04 1,05 1,06 1,07 1,08 1,09 1,10 1,11 Sekanina, Zdeněk; Chodas, Paul W. (2004). "Fragmentation hierarchy of bright sungrazing comets and the birth and orbital evolution of the kreutz system. I. Two-superfragment model". The Astrophysical Journal. 607 (1): 620–639. Bibcode:2004ApJ...607..620S. doi:10.1086/383466.
  2. 2,00 2,01 2,02 2,03 2,04 2,05 2,06 2,07 2,08 2,09 2,10 2,11 2,12 Sekanina, Zdeněk; Chodas, Paul W. (2007). "Fragmentation Hierarchy of Bright Sungrazing Comets and the Birth and Orbital Evolution of the Kreutz System. II. The Case for Cascading Fragmentation". The Astrophysical Journal. 663 (1): 657–676. Bibcode:2007ApJ...663..657S. doi:10.1086/517490.
  3. Frazier, Sarah (16 Junie 2020). "4,000th Comet Discovered by ESA & NASA Solar Observatory". NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Junie 2020. Besoek op 14 Julie 2020.
  4. 4,00 4,01 4,02 4,03 4,04 4,05 4,06 4,07 4,08 4,09 4,10 Marsden, Brian G. (1967). "The sungrazing comet group". The Astronomical Journal. 72 (9): 1170–1183. Bibcode:1967AJ.....72.1170M. doi:10.1086/110396.
  5. Kreutz, Heinrich Carl Friedrich (1888). "Untersuchungen über das cometensystem 1843 I, 1880 I und 1882 II". Kiel. Kiel, Druck von C. Schaidt, C. F. Mohr nachfl., 1888–91. Bibcode:1888uudc.book.....K.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 Sekanina, Zdeněk (2001). "Kreutz sungrazers: the ultimate case of cometary fragmentation and disintegration?" (PS). Publications of the Astronomical Institute of the Academy of Sciences of the Czech Republic. 89 (89): 78–93. Bibcode:2001PAICz..89...78S. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2011. Besoek op 28 Oktober 2008.
  7. 7,0 7,1 England, K. J. (2002). "Early Sungrazer Comets". Journal of the British Astronomical Association. 112: 13. Bibcode:2002JBAA..112...13E. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Junie 2020. Besoek op 30 Junie 2020.
  8. Sekanina, Zdenek; Chodas, Paul W. (2007). "Fragmentation Hierarchy of Bright Sungrazing Comets and the Birth and Orbital Evolution of the Kreutz System. II. The Case for Cascading Fragmentation". The Astrophysical Journal. 663 (1): 657–676. Bibcode:2007ApJ...663..657S. doi:10.1086/517490. S2CID 56347169. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Desember 2015. Besoek op 19 Desember 2020.
  9. "X/1106 C1". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Januarie 2021. Besoek op 30 Junie 2020.
  10. 10,0 10,1 10,2 Hubbard, J.S. (1849). "On the orbit of Great comet of 1843". The Astronomical Journal. 1 (2): 10–13. Bibcode:1849AJ......1...10H. doi:10.1086/100004.
  11. 11,0 11,1 "Observations of the great comet of 1843". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 6 (2): 3–6. 1843. Bibcode:1843MNRAS...6....3.. doi:10.1093/mnras/6.1.2.
  12. Jones, Geraint H.; Balogh, André; Horbury, Timothy S. (2000). "Identification of comet Hyakutake's extremely long ion tail from magnetic field signatures". Nature. 404 (6778): 574–576. Bibcode:2000Natur.404..574J. doi:10.1038/35007011. PMID 10766233. S2CID 4418311.
  13. Stoyan, Ronald (8 Januarie 2015). Atlas of Great Comets. ISBN 9781107093492. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Oktober 2021. Besoek op 9 Mei 2021.
  14. Stoyan, Ronald (8 Januarie 2015). Atlas of Great Comets. ISBN 9781107093492. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Oktober 2021. Besoek op 9 Mei 2021.
  15. "The comets of 1882". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 43 (2): 203–209. 1883. Bibcode:1883MNRAS..43R.203.. doi:10.1093/mnras/43.4.203.
  16. Opik, E.J. (1966). "Sungrazing comets and tidal disruption". The Irish Astronomical Journal. 7 (5): 141–161. Bibcode:1966IrAJ....7..141O.
  17. Hirayama, T.; Moriyama, F. (1965). "Observations of Comet Ikeya–Seki (1965f)". Publications of the Astronomical Society of Japan. 17: 433–436. Bibcode:1965PASJ...17..433H.
  18. 18,0 18,1 Marsden, B.G. (1989). "The sungrazing comet group. II". The Astronomical Journal. 98 (6): 2306–2321. Bibcode:1989AJ.....98.2306M. doi:10.1086/115301.
  19. 19,0 19,1 Sekaina, Zdeněk; Chodas, Paul W. (2002). "Fragmentation of major sungrazing comets C/1970 K1, C/1880 C1, and C/1843 D1". The Astrophysical Journal. 581 (2): 1389–1398. Bibcode:2002ApJ...581.1389S. doi:10.1086/344261.
  20. "Full list of SOHO and STEREO comets". British Astronomical Association and Society for Popular Astronomy. Oktober 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2011. Besoek op 7 November 2008.
  21. "Spacecraft Discovers Thousands of Doomed Comets – NASA Science". science.nasa.gov. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2015. Besoek op 26 Oktober 2015.
  22. "SOHO Comet Discoverers' Totals". EarthLink. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Julie 2008. Besoek op 2 Julie 2008.
  23. Young, C. Alex (2011). "Lovejoy's Last Day – Unprecedented Multi-spacecraft Observations of a Comet's Demise (Surprise filled update 12/16/2011)". The Sun Today: Solar Facts & Space Weather. C. Alex Young – The Sun Today. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Desember 2013. Besoek op 24 November 2013.
  24. 24,0 24,1 Bailey, M. E.; Chambers, J. E.; Hahn, G. (1992). "Origin of sungrazers – A frequent cometary end-state'". Astronomy and Astrophysics. 257: 315–322. Bibcode:1992A&A...257..315B.

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Marsden B. G. (1989), The Sungrazing Comets Revisited, Asteroids, comets, meteors III, Proceedings of meeting (AMC 89), Uppsala: Universitet, 1990, eds C. I. Lagerkvist, H. Rickman, B.A. Lindblad., p. 393
  • Lee, Sugeun; Yi, Yu; Kim, Yong Ha; Brandt, John C. (2007). "Distribution of Perihelia for SOHO Sungrazing Comets and the Prospective Groups". Journal of Astronomy and Space Sciences. 24 (3): 227–234. Bibcode:2007JASS...24..227L. doi:10.5140/JASS.2007.24.3.227.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]