[go: up one dir, main page]
More Web Proxy on the site http://driver.im/Gaan na inhoud

Demokratiese Party (Verenigde State)

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Demokratiese Party
Democratic Party
Democrats
Logo van die betrokke party.
Leier Jaime Harrison
Gestig 1828
Voorafgegaan deur Demokraties-Republikeinse Party
Hoofkwartier 430 South Capitol St. SE, Washington, D.C., 20003
Studentevleuel College Democrats of America
Jeugvleuel Young Democrats of America
Ideologie Liberalisme[1][2]
Progressiwisme[3]
Sosiale liberalisme[4]
Internasionale affiliasie Progressive Alliance
Amptelike kleure      Blou
Webblad democrats.org

Die Demokratiese Party (Engels: Democratic Party), of kort Demokrate (Democrats), is een van die twee hedendaagse groot politieke partye in die Verenigde State, saam met die Republikeinse Party. Die party se erfenis strek terug na Thomas Jefferson en James Madison se Demokraties-Republikeinse Party (Democratic-Republican Party) en die hedendaagse Demokratiese Party is in omtrent 1828 gestig, wat dit die wêreld se oudste aktiewe party maak.[5] Hul nieamptelike kleur is blou en hul nieamptelike wapendier is die donkie. Met 'n geskatte ledetal van 43,1 miljoen in 2012 is die Demokratiese Party die grootste party van die Verenigde State.[6]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Nast se spotprent van 1870 met die eerste noemenswaardige verskyning van die Demokratiese donkie
Amerikaanse burgers volgens affiliasie met Onafhanklikes, Demokrate of Republikeine
Die donkie, die nieamptelike kenteken van die Demokratiese Party
Kaart van goewerneurs van Amerikaanse deelstate volgens hul lidmaatskap:

   Demokrate

   Demokrate/Partido Popular Democrático (Puerto Rico)

   Republikeine

   Onafhanklik

Die Demokratiese Party was oorspronklik die konserwatiewe van die twee groot partye, terwyl die Republikeinse Party die liberale party was. Die Demokratiese Party het byvoorbeeld die slawerny van die Suidelike Verenigde State ondersteun en tydens die Amerikaanse Burgeroorlog die enigste president van die Gekonfedereerde State van Amerika, Jefferson Davis, aangestel. Hul eweknie, die Republikeinse Party, is op 20 Maart 1854 as 'n liberale antislawernyparty gestig en het in 1860 met Abraham Lincoln hul eerste president aangestel wat tot die Amerikaanse Burgeroorlog en die stigting van die Gekonfedereerde State van Amerika gelei het. Ná die sluipmoord op Abraham Lincoln het die Demokraat en adjunkpresident Andrew Johnson in 1865 president geword.

In 1913 het die Demokraat Woodrow Wilson die nuwe Amerikaanse president geword. Hy sou op 6 April 1917 oorlog teen die Duitse Keiserryk verklaar, nadat Duitse duikbote handelsskepe ongeag van hul nasionaliteit aangeval het. Nadat die Verenigde State saam met hul Geallieerdes van die Eerste Wêreldoorlog, soos Australië, Frankryk Kanada, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk, die Groot Oorlog op 11 November 1918 gewen het, het die Verenigde State se opkoms as 'n supermoondheid begin. In 1919 is Woodrow Wilson weens sy naoorlogse beleid met die Nobelprys vir Vrede bekroon.

Onder Woodrow Wilson se Demokratiese opvolger, Franklin D. Roosevelt, het die Verenigde State as gevolg van die aanval op Pearl Harbor in Desember 1941 die Tweede Wêreldoorlog teen Nazi-Duitsland, Italië en Japan betree wat tydens die ampstermyn van sy opvolger, Harry S. Truman, deur die gebruik van twee kernwapens in Augustus 1945 beëindig is. Nadat Noord-Koreaanse troepe Suid-Koreaanse grondgebied op 25 Junie 1950 aangeval het, het die Verenigde State saam met ander lande troepe na Korea ontplooi en die voorste linie tot die Chinese grens verskuif. Die Geallieerde magte is deur die Volksrepubliek China tot die Deling-grens teruggedryf, waarna die Korea-oorlog op 27 Julie 1953 deur die ondertekening van 'n wapenstilstand beëindig is. Onder Harry S. Truman het die Demokratiese Party hulself verder na links geskuif, nadat lede van die konserwatiewe vleuel die Demokratiese Party verlaat en by die Republikeinse Party aangesluit het.

Tydens John F. Kennedy se kort ampstermyn het die Koue Oorlog in 1962 sy hoogtepunt bereik, nadat die Sowjetunie kernwapens op Kuba gestasioneer het en Kennedy met 'n direkte konfrontasie die ontrekking daarvan afgedwing het. Nadat Kennedy op 22 November 1963 in Dallas, Texas, vermoor is, het sy partygenoot Lyndon B. Johnson president geword. As gevolg van die omstrede Tonkin-voorval het die Verenigde State op 2 Augustus 1964 die Viëtnamoorlog betree, wat met die nederlaag van Suid-Viëtnam en die vereniging van Viëtnam geëindig het. Tydens Johnson se ampstermyn is die rassekwessie dwarsdeur die hele land debatteer, gelei deur Martin Luther King jr. wat op 4 April 1968 in Memphis, Tennessee, vermoor is. In daardie dekade het die Republikeinse Party 'n meer konserwatiewe ideologie aangeneem.

Tydens Jimmy Carter se ampstermyn in 1978 is die vredesverdrag tussen Egipte en Israel onderteken. In dieselfde jaar is die diplomatiese betrekkinge met die Republiek China laat vaar en met die kommunistiese Volksrepubliek China vervang. Jimmy Carter se ampstermyn word beskou as die enigste termyn van 'n Amerikaanse president sedert die Tweede Wêreldoorlog waartydens die Verenigde State nie oorlog gevoer het nie. Jimmy Carter is in 2002 weens sy buitelandse beleid met die Nobelprys vir Vrede bekroon.

Bill Clinton se ampstermyn is gekenmerk deur die nadraai van die Koue Oorlog se einde met die Ontbinding van die Sowjetunie en die bloedige verbrokkeling van Joego-Slawië. Sy buitelandse beleid het veral op goeie betrekkinge met die voormalige vyande Rusland en die Volksrepubliek China China asook die Arabies-Israeliese konflik gefokus. Hy het die president van Israel, Yitzhak Rabin, en die koning van Jordanië, Hussein I, in 1994 tot die ondertekening van die Israelies-Jordaanse vredesverdrag aangemoedig.

In 2009 is Barack Obama as die eerste Afro-Amerikaanse president van die Verenigde State ingesweer. Hy is in dieselfde jaar met die Nobelprys vir Vrede bekroon. Hy het die gesondheidsorghervorming (Obamacare) geïmplementeer wat toegang verskaf tot gesondheidsdienste vir almal, onafhanklik van hul sosiale status of salaris. Tydens sy ampstermyn is ook 'n ekonomiese stimuluspakket en die Dodd–Frank-wet op finansiële hervorming goedgekeur, terwyl die Kubaans-Amerikaanse Betrekkinge vir die eerste keer in meer as 50 jaar genormaliseer is.

Vier jaar later is Obama se voormalige adjunkpresident Joe Biden as president ingesweer. Onder sy bewind het die party 'n meer progressiewe ekonomiese beleid nagestreef. Ná 'n Hooggeregshofbeslissing wat destyds 'n meerderheid konserwatiewe regters gehad en aborsies landswyd verbiet het, het die party hom ook vir aborsieregte beywer. In sy buitelandse beleid het Biden veral te kampe gehad met die deur sy Republikeinse voorganger Donald Trump besluite skielike onttrekking van Amerikaanse troepe uit Afghanistan. Vroeg in 2022 het Rusland Oekraïne binnegeval, waarna die Verenigde State by verre die grootste wapenverskaffer van Oekraïne geword het. Later dieselfde jaar het Hamas 'n bloedige oorval op Israel geloods, waarmee die Israel-Hamas-oorlog uitgebreek het wat intussen ook Iran en Libanon betrek.

Amerikaanse presidente van die Demokratiese Party

[wysig | wysig bron]

Die Demokratiese Party het al 16 presidente aan die hoof gehad, waarvan twee tydens albei wêreldoorloë: Woodrow Wilson en Franklin D. Roosevelt. Drie Demokratiese presidente is met die Nobelprys vir Vrede bekroon: Woodrow Wilson in 1919, Jimmy Carter in 2002 en Barack Obama in 2009.

Daarbenewens het die Demokratiese Party tydens die Amerikaanse Burgeroorlog die enigste president van die Gekonfedereerde State van Amerika gestel.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) N. Scott Arnold (2009). Imposing values: an essay on liberalism and regulation. Florence: Oxford University Press. p. 3. ISBN 0-495-50112-3.
  2. (en) "President Obama, the Democratic Party, and Socialism: A Political Science Perspective". The Huffington Post. 29 Junie 2012. Besoek op 12 April 2016.
  3. (en) "The Left's Quiet Advance in Democratic Primaries". The Atlantic. 19 Junie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Januarie 2020. Besoek op 12 April 2016.
  4. (en) Paul Starr. "Center-Left Liberalism". Princeton-universiteit. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2018. Besoek op 12 April 2016.
  5. (en) Kenneth Janda, Jeffrey M. Berry en Jerry Goldman (2010). The Challenge of Democracy: American Government in Global Politics. Cengage Learning. p. 276. Besoek op 12 April 2016.
  6. (en) Samuel Kernell, Gary C. Jacobson en Thad Kousser. "Background of Political Parties in the United States". Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 April 2020. Besoek op 12 April 2016.

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]