Ruhan du Toit, wat al ’n geruime tyd bekend is vir sy aangrypende vertolking van die gewilde Simon & Garfunkel-treffer, The Sound of Silence, het beslis geen bekendstelling in musiekkringe nodig nie. Laas jaar het hy ’n paar wenkbroue laat lig met sy uitdagende debuut enkelsnit “As jy dink jy weet” vroeër die jaar met ’n pratige lied uit die hart “Lewe Red” geskryf deur Riana Nel en dan nou so twee maande oud ’n lied wat verseker MONUMENTAAL is vir ons almal.
Sy unieke vieroktaafstem en natuurlike talent agter die kitaar en verskeie ander musikale instrumente, het reeds vir hom baie deure oopgemaak en vir hom ’n permanente plek in die harte van Suid-Afrikaanse en Internasionale musiekliefhebbers verseker.….
Die musikant, wat in Port-Elizabeth grootgeword het en tans in Pretoria woon, werk al sedert 1993 in die musiekbedryf en kon letterlik sing voordat hy behoorlik kon loop of praat.
Op die ouderdom van tien, reik hy sy eerste solo-album, Die Hemel Is (1994), uit en dit was maar net die begin van hierdie singende wonderkind se musiekreis!
Sedertdien het hy gemiddeld 150 vertonings per jaar gedoen, rolle gehad in verskeie musiekblyspele en teaterproduksies, asook nog drie solo-albums, Mensekind (1995), I believe (1997) en Sal ek jou kom haal (2008), en twee duet-albums, Sound of Silence (2000) en Langpad (2006), saam met sy broer, Jeanré, opgeneem. Ruhan en Jeanré was ook in die top 20 van Zing in 2004.