Nadat die immergewilde Lianie May se talent in 2006 raakgesien is, het harde werk, vasberadenheid en ’n nederige persoonlikheid haar gedra om vandag as een van die land se top vroulike kunstenaars bestempel te word.
Met haar weghol treffer-album in 2008, Vergeet My Nie, het dié boeremeisie van Oranjeville in die Vrystaat diep in die Suid-Afrikaanse publiek se harte ingekruip.
Met vele albums, multi-toekennings en ’n film agter die rug, is Lianie May nie net ’n huishoudelike naam nie - maar ook hier om te bly.
Vanuit al die toekennings wat sy al ingepalm het, bly die SAMA-toekenning in 2009 vir topverkoper die een wat haar die naaste aan die hart lê.
Sy is die eerste debuut én blanke vroulike Afrikaanse kunstenaar wat ooit dié prestasie kon verower.
Lianie het in 2009 kragte saam met Jay gesnoer en saam met hulle as duo ook diep in Afrikaanse musiekliefhebbers se harte gekuip met hul album, Vir Liefde, wat ook platinum status bereik het. Hulle is ook tans besig om aan ’n splinternuwe enkelsnit te werk wat nou gedurende 2020 vrygestel sal word - betyds vir die somer en feesmaande wat voorlê.
Lianie is een van die min kunstenaars wat nog met elke album platinum status bereik.
Met haar borrelende, sprankelende en omgee persoonlikheid - op én van die verhoog - is sy een van ons land se lieflinge met ’n passie vir sang én mense.
Lianie spog ook met meer as 23 miljoen kykers wat haar musiekvideo’s al op YouTube geniet het.
Vra mens Lianie wat is haar loopbaan hoogtepunte staan haar SAMA-toekenninsg isn 2009, vir haar album Vergeet My Nie, beslis uit.
Ander hoogtepunte sluit in ’n vroulike hoofrol in die fliek Platteland saam met Steve Hofmeyr en Bok van Blerk, ’n ontmoeting met Bonnie Tyler en haar eie TV-program, Met My Hele Hart, wat gehandel het oor haar en haar man, Barry, se lewe saam en die opbou na hul troue in September 2017.
Oorsese toere soos Nederland, Engeland, Dubai en NZ is altyd ‘’n hoogtepunt en haar deelname die Afrikaans is Groot-konserte is ook ’n herinnering wat haar bybly.
Vir Lianie is die feit dat sy haar droom uitleef egter in die eerste plek van hoogtepunte en die voorreg om jaarliks by van die grootste feeste soos Innibos, voor 40 000 tot 50 000 mense op te tree.
Sanger, skrywer, aktrise, boeremeisie – watter kuns Lianie ook al beoefen, sy skitter en dié boeremeisie se hande staan vir niks verkeerd nie.