Grammatikalisering
In die taalkunde is grammatikalisering (ook genoem grammatikalisasie) ʼn proses waarvolgens leksikale items (dit is woorde in hul oorspronklike, letterlike betekenis) stelselmatig ontwikkel om grammatikale merkers te word (woorde wat 'n bepaalde funksie in taal verrig, soos byvoorbeeld 'n hulpwerkwoord wat tempus, aspek of modaliteit merk). Grammatikalisering is ʼn kragtige aspek van taal, aangesien dit nuwe funksiewoorde binne ʼn taal skep deur funksies te skei van hul oorspronklike verbuigings en gebonde konstruksies (bv. inhoudswoorde). Dit is ʼn navorsingsveld binne historiese taalkunde, in die groter studie van taalverandering, wat op spesifieke prosesse van leksikale en grammatikale verandering fokus.
Om die proses beter te begryp moet ʼn onderskeiding getref word tussen leksikale items of inhoudswoorde, wat spesifieke leksikale betekenis het, en grammatikale items of funksiewoorde met min of geen leksikale betekenis, wat ten doel het om die grammatikale verhoudings tussen verskillende woorde binne ʼn uiting uit te druk. Grammatikalisering is al gedefinieer as "die verandering waarvolgens leksikale terme en konstruksies in sekere linguistiese gevalle ten doel het om grammatikale funksies te verrig, en, na grammatikalisering, voortgaan om nuwe grammatikale funksies te ontwikkel ".[1] Eenvoudig gestel is grammatikalisering die proses waarvolgens ʼn leksikale woord of woordgroep sommige of alle leksikale betekenis verloor en begin om ʼn meer grammatikale rol te vervul. Waar grammatikalisering plaasvind dra naamwoorde en werkwoorde sekere leksikale betekenis wat met tyd gevorm is tot grammatikale items soos huplwerkwoorde, kasus- of naamvalmerkers, verbuigings en voegwoorde.
ʼn Voorbeeld van grammatikalisering is die werkwoord hê wat dui op om te besit, bv. Jan het ʼn kar. In die verledetyd Jan het ʼn kar gekoop kan die werkwoord hê nie volgens sy oorspronklike betekenis verstaan word, maar dit word as hulpwerkwoord bygevoeg en gebruik as tempus- of tydmerker. Grammatikalisering het hier plaasgevind waar die inhoudswoord hê ‘n bykomende funksiewoord geword het.[2] In 'n volgende stap kan die gegrammatikaliseerde woord sy inhoudsfunksie heeltemaal verloor. Dit het bv. in Spaans gebeur waar die werkwoord haber ("hê") net nog as hulpwerkwoord gebruik word en in sy inhoudsfunksie deur tener ("hou") vervang is.
Verwysings
wysig- ↑ (Vrylik vertaal) Hopper & Traugott 2003, p. 1.
- ↑ Breed, C.A. (2012), die Grammatikalisering van aspek in Afrikaans; ʼn semantiese studie van perifrastiese progressiewe konstruksies, Noordwes-Universiteit, pp. 85-94, http://webh01.ua.ac.be/cgct/publications/CA%20BREED%20-%20PHD%20-%20Die%20grammatikalisering%20van%20aspek%20in%20Afrikaans%20-%202012.pdf
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |