Semnone
Die Semnone was 'n Germaanse volk en spesifiek 'n stam van die Suebe, wat hulle gevestig het tussen die Elbe en die Oder in die 1ste eeu toe hulle beskryf is deur Tacitus in sy Germania.
Die Semnone se eie naam is blykbaar etimologies soortgelyk of selfs dieselfde as die een wat deur Romeinse skrywers as "Suebe" opgeteken is, en in sy eie tyd het Julius Caesar die Suebe genoem maar nie die Semnone nie. Hulle is in Caesar se tyd deur koning Ariovistus gelei.
Masias, koning van die Semnone, en sy priesteres Ganna, word deur Cassius Dio genoem. Hulle het 'n oppergod (Latyns: regnator omnium deus) by 'n heilige bos aanbid. Ptolemeus se kaart van Germanië maak melding van 'n woud genaamd Semanus Silva, maar enige verbintenis daarmee met die Semnone is onbekend.
In die 3de eeu het die Semnone suidwaarts verskuif en uiteindelik deel van die Alemanne geword.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Tacitus, Germania