Apokriewe boeke
Die Apokriewe boeke (van die Griekse woord ἀπόκρυφος apókruphos, "om iets weg te steek") is die Joodse geskrifte wat nie in die Hebreeuse Bybel of in die meeste moderne Bybels ingesluit is nie. Met die term "Apokriewe boeke" word dié geskrifte aangedui wat oënskynlik Bybels is omdat hulle aan die naam van 'n geïnspireerde skrywer gekoppel word of aanvullende mededelings doen oor Bybelse gegewens, maar nie amptelik as Bybelboeke aanvaar word nie. Apokrief beteken hier niekanoniek, oftewel nie deel van die Bybel nie. Onder Protestante word die Ou en Nuwe Testamentiese Appokriewe boeke beskou as boeke wat nie in die Bybel hoort nie omdat dit:
- nie onder God se gesag geskryf is nie;
- verkeerde idees bevat;
- in teenstelling met die ander 66 boeke staan.
Die Rooms-Katolieke Kerk se opinie daaroor verskil. In 1546 het die Kerk by die Sinode van Trente formeel bevestig dat die ekstra Ou Testamentiese boeke, wat nie in die Hebreeuse Bybel is nie, volgens hulle as gesaghebbend aanvaar is.
Die opvattings van die Protestante en Rooms-Katolieke stem ooreen wat die Nuwe Testament betref: Al die legendariese verhale wat afsonderlik van die Nuwe Testament ontstaan het, soos die sogenaamde evangelies oor die jeug van Jesus en "handelinge" van verskillende apostels, is deur Protestante sowel as Rooms-Katolieke eenparig as deel van die Bybel verwerp.
Wat die Ou Testament betref, bestaan daar wel 'n meningsverskil. By Protestante dui die benaming Apokriewe boeke in die algemeen op 'n bepaalde groep boeke waarvan die meeste wel as kanonieke boeke deur Rooms-Katolieke aanvaar word. Dit is hoofsaaklik 'n reeks geskrifte wat nie in die Hebreeuse Bybel voorkom nie, maar wel in die ou Griekse Bybelvertaling, die Septuagint. Die Rooms-Katolieke dui dié geskrifte aan met die tegniese term "deuterokanonieke boeke". Hulle is as ’n aanhangsel in ou uitgawes van die Nederlandse Statebybel opgeneem. Ook in die uitgawe van die nuwe Bybelvertaling van die Evangelies-Lutherse Kerk, kan 'n mens die meeste daarvan in 'n afsonderlike afdeling tussen die Ou en Nuwe Testament kry.
Ou Testamentiese Apokriewe boeke
[wysig | wysig bron]Die Ou Testament bevat 39 boeke, wat in drie afdelings opgedeel kan word:
- Die wet (as gesaghebbend aanvaar teen omstreeks 450 v.C.)
- Die profete (as gesaghebbend aanvaar teen omstreeks 200 v.C.)
- Die geskrifte (as gesaghebbend aanvaar teen omstreeks 100 n.C.)
Ná die ballingskap van die Jode was daar baie Jode buite Palestina wat nie Hebreeus of Aramees verstaan het nie, maar steeds daarin belanggestel het om die Ou Testament in 'n skrif en taal te lees wat hulle wel verstaan. In die 3de eeu het werk begin aan 'n Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel. Dit staan as die Septuagint (afgekort as LXX) bekend. In die vertaalproses het verskille egter tussen die twee weergawes ingesluip. Die Apokriewe boeke is in die proses gebore.
Bekende kerkleiers deur die geskiedenis het die Apokriewe boeke as gesaghebbend beskou. Selfs Augustinus (omstreeks 354-430) het die Ou Testamentiese Apokriewe boeke as ’n volwaardige deel van die Ou Testament beskou: 'n duidelike aanduiding van die Septuagint se impak.
Die Ou Testamentiese Apokriewe boeke sluit in
[wysig | wysig bron]- Boek van Tobit (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- Judit (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- Toevoegings tot die boek van Ester (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- Wysheid van Salomo (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- Wysheid van Ben Sirag (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- Barug (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- Brief van Jeremia (Barug 6 in sommige Bybels) (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- Susanna (in die Griekse en Slawiese Bybels, en Daniël 13 in die Rooms-Katolieke Bybel)
- Asarja se gebed en die lied van die drie jong manne (in die Griekse en Slawiese Bybels) en tussen Daniël 3:23-24??? in die Rooms-Katolieke Bybel)
- Bel en die draak (in die Griekse en Slawiese Bybels en Daniël 14 in die Rooms-Katolieke Bybel)
- 1 Makkabeërs (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- 2 Makkabeërs (in die Rooms-Katolieke, Griekse en Slawiese Bybels)
- 3 Makkabeërs (in die Griekse Bybel)
- 4 Makkabeërs (bylae tot die Griekse Bybel)
- 1 Esdras (in die Griekse Bybel)
- 2 Esdras (in die Slawiese Bybel en 'n bylae tot die Latynse Vulgata)
- Gebed van Manasse (in die Griekse Bybel)
- Psalm 151 (in die Griekse Bybel)
Nuwe Testamentiese Apokriewe boeke
[wysig | wysig bron]Daar is egter ’n verskil tussen die Ou en Nuwe Testament se Apokriewe boeke; dit is twee verskillende groepe boeke met 'n verskillende geskiedenis en waarde vir die kerk.
Eers toe die kerk in die 4de eeu die staatskerk geword het, was daar amptelike openbare uitsprake oor watter boeke gesaghebbend is en watter nie. Die bepalende faktor in die beskouing van die Nuwe Testamentiese boeke is betroubaarheid - watter boeke hulle nog altyd gesien het as gesaghebbend.
Geleerdes stem nie altyd ooreen oor watter boeke as Nuwe Testamentiese Apokriewe boeke beskou moet word nie. Voorbeelde van die Nuwe Testamentiese Apokriewe boeke is:
Evangelies
[wysig | wysig bron]- Evangelie van die Ebioniete
- Evangelie van die Hebreërs
- Evangelie van Nikodemus
- Evangelie van Petrus
- Kindheidsevangelie van Tomas
- Proto-Evangelie van Jakobus
- Evangelie volgens Maria
- Evangelie volgens Philippus
- Evangelie volgens Tomas
Handelinge
[wysig | wysig bron]- Handelinge van Andreas
- Handelinge van Johannes
- Handelinge van Paulus
- Handelinge van Filippus
- Handelinge van Petrus
- Handelinge van Tomas
Briewe
[wysig | wysig bron]- Die Abgarlegende
- Briefwisseling tussen Paulus en Seneka
- Pseudo-Titus
- Paulus se Brief aan die Laodisense
Openbarings
[wysig | wysig bron]- Openbaring aan Petrus
- Openbaring aan Paulus
- Openbaring aan Tomas
Bron
[wysig | wysig bron]- Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Verlore boeke uit die Bybelse tyd. 2005. Jan van der Watt. Francois Tolmie. ISBN 1-77000-192-1
- Wêreldspektrum, Volume 2, bl.39, ISBN 0908409419